Medies

Met die nuwe jaar voor ons is menigte huisgesinne verlig om weer ‘n volle jaar se mediese voordele tot hul beskikking te hê. Voor u egter wegspring met u inkopietog na die apteek, neem kennis van die volgende wenke om u voordele ten beste te kan gebruik.

1. Verstaan u plan – Praat met u mediese fonds makelaar of verkry ‘n volledige brosjure van u opsie en lees dit aandagtig deur. Verstaan watter van u voordele vanuit risiko of dag tot dag voordele gedek word en watter van u voordele uitsluitlik uit u spaarvoordele betaal word. Maak ook seker u kennis dra van u jaarlikse limiete.

2. Beplan sover moontlik – Dit klink dalk onsinnig, maar baie mediese besoeke kan wel vooruit beplan word, bv. tandartsbesoeke, oogtoetse, besoeke aan sielkundiges en spesialiste. Sit met ‘n jaarkalender en beplan wat jy wanneer wil doen en hoe dit gedek gaan word, dit wil sê uit risikovoordele of uit spaarvoordele. Onthou om te beplan vir doktersbesoeke elke 6 maande vir jou chroniese medikasie voorskrifte, indien van toepassing. Deur bewus te wees van wat jy alles moet dek deur die jaar kan u dalk die versoeking weerstaan om byvoorbeeld oor die toonbank medikasie deur u spaar te eis en in Oktober dalk sonder enige voordele te wees.

3. Wees bewus van al u voordele – Meeste planne bied “wellness” voordele wat u dag tot dag limiete kan verhoog of toegang gee tot meer doktersbesoeke nadat ‘n “wellness” assessering gedoen is. Bonitas het byvoorbeeld ‘n “Wellness Extender” wat ‘n spesifieke bedrag se voordele bygee nadat ‘n assessering voltooi is. Indien jou plan sulke voordele het, probeer om die assessering so vroeg as moontlik in die jaar te doen om heel jaar toegang te hê tot u bykomende voordele. Sommige planne bied ook verlengde voordele bv. Discovery bied ‘n “Day to Day Extender Benefit” op van hulle “Saver” planne wat toegang tot addisionele doktersbesoeke gee wanneer u spaarvoordele uitgeput is.

4. Chroniese toestande – Indien u enige chroniese toestande het, vind uit of u toestand gedek word op u plan en indien wel, verseker dat u chroniese medikasie geregistreer is by u fonds. Chroniese medikasie vir gedekte toestande word uit risikovoordele betaal, wat die druk op u dag tot dag en spaarvoordele aansienlik kan verlig. Hierdie voordele is ook van toepassing op hospitaalplanne wat geen dag tot dag voordele het nie. Meeste planne bied ook “managed care programmes” vir sekere toestande wat ‘n mandjie van voordele gee en ondersteuning kan bied om u toestand te bestuur. Bonitas het ‘n “Back and Neck” program op sekere opsies wat ‘n pasgemaakte plan van fisioterapie en doktersbehandelinge gee wat ten volle uit risikovoordele betaal word en dus nie u dag tot dag voordele beïnvloed nie. Discovery het ‘n “mental health” program wat kan bestaan met die behandeling van major depressie.

5. Verskaffers – Die gebruik van voorkeurverskaffers kan u mediese uitgawes aansienlik verminder. Die gebruik van ‘n netwerk-apteek kan verseker dat u dalk geen bybetaling op chroniese medikasie het nie, terwyl die gebruik van ‘n ingekontrakteerde dokter, tandarts of spesialis ook sal verseker dat u voordele baie langer hou. Meeste fondse publiseer hulle netwerkverskaffers op hulle webtuiste. Doen jouself ‘n guns en gaan maak seker jou dokter, tandarts en apteek is op daardie lys. Indien nie, kyk rond vir verskaffers in jou area. U sal verbaas wees hoe ‘n groot verskil aan koste dit kan maak. Dieselfde geld ook vir medikasie. U apteker kan vir u noem of daar ‘n generiese ekwivalent vir u medikasie is, wat die koste van u apteekbesoek verder kan verlaag.

6. Hou rekord – Indien u wel ongelukkig op die punt kom waar u spaar en dag tot dag voordele opgebruik is, stuur nogsteeds u rekeninge en eise in na u fonds. Hoekom? U fonds hou rekord van enige mediese uitgawes wat u uit u sak betaal het en verklaar dit op u mediese fonds belastingsertifikaat. Dit spaar u moeite om elke slippie en faktuur bymekaar te tel wanneer die belastingseisoen aanbreek, en u u opgawe moet indien. Onthou die hooflid van ‘n mediese fonds kry ‘n belastingkrediet per maand vir elke lid wat op die plan is. Verder kan die hooflid ook addisionele kwalifiserende mediese uitgawes wat hy/sy uit sy sak betaal het, terugeis. Hierdie limiete verhoog vir persone ouer as 65.

7. Leef gesond – Daar is geen behandeling wat so goed werk soos voorkoming nie. Gebruik die nuwe jaar om gesonde gewoontes aan te kweek. Daag uself uit om gesonder te eet, meer aktief te wees en spanning in u lewe uit te skakel.

Mag u net die beste gesondheid geniet in 2020!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post comment