Medies

Gesondheid by die werk – MMR

Om gesond te bly in die kantoor kan uitdagend wees! Navorsing wys dat siekverlof in Suid-Afrika aanhoudend aan die styg is met bykans 4 miljoen werknemers wat in 2015 afwesig was by hulle werk as gevolg van siekte teenoor slegs 700 000 in 2000.

’n Kantoor-omgewing bestaan uit gedeelde ruimtes en gewoonlik heelwat mense wat op een plek sit en werk. As gevolg hiervan is die risiko van siekte-oordrag baie hoog. Die volgende wenke kan gebruik word om seker te maak dat kieme en siektes nie by die werk onder kollegas versprei nie:

Hou jou hande skoon

Was jou hande gereeld met seep en water. Of maak gebruik van nuttige handsanitiseerders wat jy in jou sak kan hou. Doen dit gereeld, soos na jy ’n deur oopgemaak het, voor jy met kos gaan werk of wanneer jy ’n breuk neem en ’n ent gaan stap.

Bedek jou mond as jy hoes

Hoes en nies in ’n sneesdoekie in. Gooi die snesie dadelik weg – moet dit nie stoor vir latere gebruik in jou laai of op jou lessenaar nie. As jy nie anders kan nie, bedek liewer jou mond met jou elmboog wanneer jy hoes of nies. Sodoende maak jy seker dat jou hande nie met kieme besmet word nie. In ’n kantoor is mens tog die heeltyd besig om ander mense se hande te skud en hulpbronne uit te ruil. Sodoende verlaag jy siekteoordrag reeds baie!

 

Bly tuis as jy baie siek is

As jy regtig siek voel, bly eerder by die huis en gaan sien jou dokter. Neem jou medikasie en bly by die huis totdat jy weer gesond voel. Moet ook nie skaam voel om vir jou kollega voor te stel dat hy of sy eerder huis toe moet gaan as jy agterkom hulle is werklik siek nie. Eerder een werknemer by die huis as wat die hele kantoor hoes en proes.

 

Beheer jou stresvlakke

Dit is moeilik, maar jy moet ’n poging aanwend om jou stres onder beheer te hou. Navorsing het al getoon dat stres veroorsaak dat ’n mens se immuunstelsel onderdruk word en nie so doeltreffend is in die bevegting teen siektes nie. Mens is ook geneig om ongesonde besluite te neem as jy gestres is, vernaam ten opsigte van watter kos jy eet en hoe gereeld jy oefen.

Drink deurlopend water

Drink deur die loop van die dag genoeg water. Probeer om nie jou waterbottel te deel met kollegas nie – al lyk jou kollega perdfris en gesond. As jy baie koffie of tee by die werk drink, moet jy dit oorweeg om minder suiker saam met dit te drink. Suiker kan ook lei tot stres en dit het ’n negatiewe invloed op jou gesondheid.

 

Bly aktief

Gereelde, gemiddelde vlakke van oefening hou jou hart gesond en maak seker jou immuunstelsel is sterk. Probeer om tydens jou etensuur vir ’n paar minute te gaan stap of neem die trappe na die vloer waarop jou kantoor is in plaas van die hyser. Maak ook seker om gereeld te staan. Om heeldag agter ’n lessenaar te sit is baie ongesond. Herinner jouself om elke 20 minute op te staan en vir ’n paar minute staande te werk. Werkgewers kan dit ook oorweeg om staande-vergaderings in te stel. Nie net is dit gesonder nie, maar vergaderings sal ook baie vinniger afgehandel word!

 

Kry genoeg slaap

Slaap ten minste sewe ure per nag. Maak ’n punt daarvan om nie op jou foon te wees kort voor jou slaaptyd nie – die effek van die lig van die skerm kan die gehalte van jou slaap belemmer. As jy vir lank sukkel met slaap is die kanse goed dat jou immuunstelsel swakker is as gewoonlik en jou risiko vir siektes kry is dus aansienlik meer.

 

Om gesonder te leef is ’n baie goeie manier om te verseker dat jou risikoprofiel kleiner word. Gevolglik kan jy baie geld spaar op jou maandelikse mediesefonds-premie. Ons bestee meer as die helfte van die dag by die werk en daarom is dit noodsaaklik dat mens reeds daar gesonde praktyke in stel om ’n gesonder lewe te verseker.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Post comment